Die Tuinier :: Editor's Letter
Februarie 2020
   Die Tuinier

Ek hoop jy is al gewoond daaraan om die regte jaartal op dokumente en op die aaklige lisensiehernuwingsvorms te tik. Dit is nie sleg om te tik nie omdat daar die immer nuttige skrap- en trusleutel is, maar o gits, handgeskrewe vorms maak jou rasend! Dis seker duidelik dat ek eerstehands ervaring hiervan het. Ons is nietemin daar, in die 2020’s, herinner jou dus gereeld daaraan en neem altyd twee vorms ingeval jy die eerste een verkeerd kry!

Waar was tuinmaak dus 100 jaar gelede? Wat was die neigings toe? Dit het my aan die dink en aan die grawe (verskoon die woordspeling) die verlede in gesit, en siedaar, ek moes glimlag, selfs lag. Lees hierdie uittreksel uit 'n aanlynartikel wat ek opgespoor het met die titel Landscape Business Design Trends from the 1920’s to Today: A look Back in Time: “Landskappering in die 1920’s het oor groenigheid gegaan. Daar was 'n opregte verlange om die natuur in al sy glorie te vier en te verwelkom, wat huiseienaars daartoe gelei het om voëlvoerders, voëlhuisies en voëlbaddens aan te bring, asook visdamme en rotstuine – enigiets wat meer natuur na die huis toe sou lok.” “Voëlkykery was toe 'n gewilde stokperdjie, wat plante en bome met bessies (soos huls, meidoring, nandina, rugosa-rose, houtappels) gewilde keuses vir die tuinargitekte van die tyd gemaak het.”

En hier is ons 100 jaar later en wil steeds voëlvoerders en voëlbaddens aanbring en die natuur teruglok in ons tuine in!
Wel, ek is skoon stomgeslaan! Getrou aan hierdie neiging om die natuur aan te gryp en pragtige ruimtes te maak, vertoon ons 'n skouspelagtige ruimte in Knysna wat deur Lynnette en Minnaar Joyce van Earthbound Landscapes gevestig is. Hierdie tuin is 'n meersterstuk en het my geïnspireer om meer grasse in my tuin in te sit! Ek moet toegee ek sal na party moet soek, maar haai, dit maak die uiteindelike vonds meer bevredigend! As ek na 100 jaar gelede terugkyk, kan ek my goed voorstel dat hierdie aanplanting die gewildste sou wees.

Seksie sedums is ons keuse as plant van die maand en as ek al die bladsye in die wêreld gehad het, sou ek 'n hele tydskrif net aan hulle gewy het. Die ghoeroes het met 'n bietjie slim plantseleksie en -teling met hierdie groep plante ons in 'n wêreld van eindelose keuses en moontlikhede ingestuur. Van die skep van “ondersese” temas tot die beplanting van onherbergsame banke, potte, rotstuine en selfs klein potjies is daar 'n sedum vir jou!

Geniet die maand van die liefde. Lekker tuinmaak vir jou en jou mense!



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM