Die Tuinier :: Editor's Letter
Desember 2019
   Die Tuinier

Wat so wonderlik van plante is, is ongeag hoe lank jy al 'n tuinier is, is daar altyd iets nuuts om te ontdek. Al het jy al die boeke en tydskrifte gelees, die wêreld deurreis of gereeld “plantsoektogte” in jou plaaslike tuinsentrum uitgevoer, is daar altyd iets om te ontdek wat jou sal verbaas en verstom, en jou asem heeltemal sal wegslaan!

Ek het net verlede week so 'n ontdekking gedoen met 'n plant genaamd Wachendorfia. Ja, sê dit weer: “WA-CHEN-DOR-FIA”. Joe, ek het die boerpot geslaan!

Ek het die plant die eerste keer gesien toe ek tussen Knysna en Plettenbergbaai gery het. Die plante het as 'n massa polle in die moerasagtige vleie langs die N2 gegroei en was natuurlik in volle blom. Na die derde groep waarby ek teen ongeveer 120 km per uur verbygery het, moes ek natuurlik eers stilhou en van naderby gaan kyk om meer te sien as die geel-groen kolle wat by my verbygevlieg het. Daar was dit toe, die lieflike plant met n massa polle diepgroen gestreepte loof waaruit tamaai are donkergeel stervormige blomme hoër as 1 m verrys. Eenvoudig pragtig – ek was oorweldig!

En so het die soektog begin om my eie Wachendorfia vir my tuin te vind. Hierdie storie het n feëverhaaleinde, baie soos die Wêreldbekerfinaal, en nou het ek drie plante en ek kan nie wag om vir hulle 'n plek in my tuin te kry nie. Hoekom drie, wil jy weet? Wel, een plant alleen sal net alleen wees, en drie is 'n goeie getal om 'n groep te maak soos die pragstukke wat ek op die padsoom van die N2 gesien het.

Heuchera (wat “HOE-KA-RA” uitgespreek word) is nog 'n plant wat perfek op my moet-hê-lys pas. Ek het twee jaar gelede hierdie plante die eerste keer by die Chelsea-blommeskou raakgesien, en is verheug om te sien dat hulle stadigaan bekend raak in tuinsentrums hier te lande. Heucheras is opwindend! Hulle is eenvoudig pragtig, nuttig vir potte en houers, in beddings en ligte skadu, en is rateltaai. Die heel beste is hul loof is betowerend en 'n mens wil een van elke kleur hê. Vreemd genoeg verdien heucheras nie hul plek in jou tuin met hul blomme nie – ek is dol oor hulle oor hul teksture, die helder kleure wat bekoor en hul informele aard – maar laat ek jou waarsku: Sodra jy een of drie van 'n kleur het, gaan jy meer nodig hê!

Met die vakansie wat nie meer net 'n lugspieëling in die verte is nie, sal jy hopelik 'n bietjie tyd hê om te gaan plante soek. Ek het 'n lys van moet-hê-plante waarna ek op die uitkyk sal wees, en ek hoop jy het ook.

Geniet die vakansie. Wees veilig, wees goedhartig, en onthou om die geskenkpapier te herwin.



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM