Die Tuinier :: Editor's Letter
November 2019
   Die Tuinier

‘n Deel van my posbeskrywing (mmm, wat is dit?) is om praatjies te lewer. Dit is gewoonlik vir tuinliefhebbers, voornemende tuiniers, beginners en ook werklike kundiges. Hierdie aanbiedings is vir my tweede natuur, en 'n groot liefde. (Ek dink dit is die onderwyseres in my wat kop uitsteek.)

'n Snaakse storie is dat ek 'n beurs gekry het om na skool onderwys te gaan studeer. My pa was al oorlede en my ma het alles moontlik gedoen om my die geleentheid te gee om te gaan leer. Soos baie ouers weet is klasgeld een ding – dis die kos, boeke, vervoer en ander lewenskoste wat dit werklik duur maak! En ook om die eerste van drie te wees om 'n beurs te kry was regtig 'n groot ding in ons gesin. Dit het ook gepaardgegaan met die onuitgesproke woorde om sake nie te laat skeefloop nie. Daar ry ons toe met 'n duvet en bypassende gordyne, kussingslope, boeke, baie ingemaakte blikkieskos en tweeminuutnoedels alles in my ma se VW Fox gepak (onthou iemand nog die motor?) met die N2 van Pennington af Durban toe – 'n epiese reis in daardie dae!

Ek moet jou ook herinner dat dit lank voor selfone, WhatsApp en selfs teksboodskappe was! Terwyl ons op die snelweg onderweg was, sê ek toe vir my dierbare moeder, wat Job se geduld gehad het en ons kalm, altyd bedaarde en waardige matriarg was, dat ek dit nie kan doen nie . . . Ek kon nie hierdie beurs gebruik en gaan studeer om 'n onderwyseres te word omdat ek bloot nie seker was dat dit die regte ding vir my was nie. Stilte. Nie 'n woord nie. Die motor het net baie effens stadiger gery. Ek het my saak gestel en sy het geluister (natuurlik kon ek dit weke tevore al gedoen het, maar helaas). Soos altyd het sy gesê: “Het jy goed nagedink hieroor? Is dit wat jy regtig wil doen? Doen wat jy glo reg is.” (Laasgenoemde was altyd haar standaardsegswyse!)
Daarna het ons na die naaste dorp teruggery waar daar 'n tiekieboks (telefoonhokkie) was om toelatings te bel en die hoof van beurse/toelatings mee te deel dat ek nie die beurs aanvaar nie omdat dit nie reg voel nie en dat die beurs liewer aan iemand gegee moet word wat regtig 'n onderwyser wil word. Einde van die storie.

Dalk dink jy nie dit is 'n groot sprong van onderwyser na tuinier toe nie: 'n Mens leer en deel dan (nes die familiemelktertresep wat van geslag tot geslag oorgedra word). Trouens my loopbaankeuse het my nog maar altyd in die gesig gestaar: Ma, Pa, Shaun en Pierre was almal entoesiastiese tuiniers (Shaun is steeds). Dis in ons bloed.

Dus terug na praatjies en werkswinkels. Ek vermoed dis waarom ek daarvan hou: Dis 'n roeping, en het, soos met alle dinge op hierdie reis waarop ons is my die hele tyd bygebly. Dit is my liefde om te deel. MAAR (en daar is altyd 'n maar!) toe ek gevra word om seremoniemeester te wees vir een van die prestigerykste roosbekendstellings in Suid-Afrika, die naamgewingseremonie van die roos wat na professor Thuli Madonsela vernoem is, was ek verstom, sprakeloos en het nederig gevoel. En toe raak ek senuagtig! Dit was geen gewone dag nie, daar was baie vreeslik belangrike mense in die gehoor en die verwagtings was groot. Die hoofsaak was ek het gebewe, letterlik, toe ek opstaan om die gehoor toe te spreek. Hoe het dit toe uiteindelik gegaan? Goed. Eintlik beter as goed toe ek die bewerasie onder beheer gekry het. En belangriker, dit was wonderlik om in die teenwoordigheid van ongelooflike mense soos Thuli Madonsela te wees. Ek kan haar in die volgende woorde beskryf: wys, 'n vrou van aansien en eer, 'n stil leier met 'n enorme aura, sag en tog vurig, met 'n waardestelsel wat veranker is in alles wat sy sê, doen en dink!

Wat is dus die punt van hierdie lang relaas? Ek is self nie eintlik seker nie, maar ek moet sê tydens die naamgewing van die pragtige roos het almal iets geleer, of is herinner aan die feit dat mense plante nodig het, plante mense nodig het en almal wat in ons wonderlike land woon meer as net 'n tuin verdien. Soveel meer!





 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM