Die Tuinier :: Editor's Letter
Oktober 2019
   Die Tuinier

Die mooie Oktobermaand jubel dié maand van oorvloed: 'n Massa blomme en geure, die bome is nou heeltemal wakker en vol in die blaar. 'n Mens kan nie anders as om daarvan te hou nie.

Dit was 'n besige lente met die Builders-
promosietoer in volle gang – tot dusver het ons reeds die Suidkus, Hillcrest en Glen Eagles besoek, en vandeesmaand reis ons na die pragtige Wes- en Oos-Kaap om by George, Port Elizabeth en Queenstown aan te doen. As jy dus binne 'n redelike ryafstand (hoe ver dit ook al vir jou is) daarvan is, bespreek gerus plek vir een van ons Meesterklaswerksessies – kyk op die www. tanyavisser.com-webwerf onder Speaking events wat die datums en tye is.

Hierdie maand gesels ons in die tydskrif oor nuwe rose, en daar is baie om van te kies. Een van die werklik indrukwekkendes is die ‘Hannon’-roos – ja, vernoem na ons uitsonderlike plaaslike styl- en grimeerghoeroe Hannon Bothma. Jy weet waarskynlik dat ek nie so lief vir rose is nie, maar goeiste, hierdie roos is ongelooflik – dis spoggerig! Sy blomme is enorm (een blom het my hand amper volgelê) met digte kroonblare en sterk stingels. Nou is my ‘Hannon’-roosbos veilig geplant in my broer se roostuin wat ek moet versorg omdat hy na die Weskus verhuis het. Geen druk op kleinsus nie!

Suid-Afrika het baie ikoniese tuine wat toeriste vanoor die wêreld besoek. Hierdie maand wys ons vir jou een van hulle, die skitterende Stellenberg-tuin, terwyl ons daardeur wandel. Ek sukkel om die regte byvoeglike naamwoorde te vind om dit te beskryf. Uitvoerige beplanning en uitvoering neem jou op 'n wonderlike reis deur baie kamers. Ja, die meeste van ons het bloot nie die plek of geld om so 'n tuin te maak nie, maar ons kan steeds hierdie tuin na hartelus geniet, en 'n idee of konsep saamneem om by ons eie tuine in te sluit. Ongeag hoe klein of groot die plek is, kan 'n mens altyd iets nuuts daaruit leer. As jy die geleentheid kry, besoek gerus Stellenberg...

Ons fokus ook op die lelies van die Inka (Alstroemeria) – 'n besondere plant! Baie van ons onthou Inkalelies as yl, slordige plante in groot plaastuine, en beslis nie die keuseplant vir 'n klein tuin nie. Dit het egter alles verander danksy slim tuinboukundige teling. Die nuwe variëteite is kompak, blom onophoudelik en bly regop! My tydlose treffer (die foto’s in die artikel is van my tuin) is ‘Indian Summer’. Dis 'n ongelooflike plant wat nooit teleurstel nie, selfs met min sorg. Hierdie pragtige juweel gee ook vir ons maande lank hope blomme vir die vaas!

Smeer dus jou sonskerm aan, glip in jou gunstelingtuinklere, gryp jou hoed en kom in die tuin!

Lekker tuinmaak.



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM