Die Tuinier :: Editor's Letter
September 2019
   Die Tuinier

Dit is dalk nog 'n bietjie koud maar ons weet dat die lente hier is! O ja, die eerste tekens is hier en jy kan dit ruik! Waarskynlik die bekendste en ikoniese simbool van die lente is die baie geliefde wit jasmyn (Jasminum polyanthum). Hierdie geil ranker het in baie van jul tuine 'n tuiste gevind, en tereg ook. Sommer uit die niet begin hierdie jasmyn om trosse rooierige tot helderpienk knoppies te maak wat oornag in wit bloeisels uitbars! Wat 'n gesig en plesier; wie sou nou kon dink dat so 'n gewone plant soveel vreugde aan soveel van ons kan gee. As jy nie een in jou tuin het nie, loop jy baie mis (tensy jy minstens die helfte van die vreugde kan geniet omdat jou bure een het, en die soet geur steeds jou tuin binnesweef). Dit is dus die amptelike groen lig: Gaan kry jou eie!

Hierdie uitgawe gaan oor die viering van die lente, van die moets en moenies tot pragtige hangmandjies – ja, ons moet almal een of twee hê! Jy moet hangmandjies uittoets – ons het die perfekte grondresep vir jou saamgestel (waar dinge gewoonlik begin verkeerd loop – as die grond reg is, loop die res reg!). Ons het potkombinasies waarvan jy gaan hou, wat eenvoudig uitbars van die kleur. Daar is ook 'n bietjie goeie raad oor hoe om vir daardie baie geliefde binnenshuise blomplante te sorg na hul hoofblomtyd verby is. Onthou – hulle kan in die tuin geplant word vir 'n tweede lewenskans!

Dis ook die begin van die seisoen van Oop Tuine, haal dus die dagboek uit en begin beplan daardie uitstappies, mense. Daar is soveel om te sien, te leer en te ervaar. Jy kan 'n lokloertjie kry na die eerste oop tuine op bladsy 50 en 51, en natuurlik kan jy die hele gids kry in ons tydskrif Open Gardens, wat nou te kry is by jou plaaslike kleinhandelafsetpunt of op magzter.com, waar jy jou digitale afskrif kan aflaai. Kan jy glo dat daar vanjaar meer as 200 tuine oop is? Ek weet dit gaan vanjaar vir jou moeilik wees om te besluit watter een om te besoek omdat ek beslis gaan sukkel!

'n Paar ander geleenthede om in jou dagboek aan te teken is die Builders Warehouse Garden Masterclass-sessies wat landswyd plaasvind. Almal vind op 'n Saterdag plaas, dus is daar geen rede waarom jy nie daarby kan uitkom nie! Bly op die hoogte van waar en wanneer hulle is op Facebook (by TheGardenerMag of TanyaVisserGardener). Bring jou ongeïdentifiseerde, moeilike of bedorwe plante saam en ek is seker ons sal kan help!

Sjoe, dis uiteindelik weer tyd vir The Gardener om terug op televisie te wees: Seisoen 18 begin op Dinsdag 10 September. Ons het 'n tuin vol idees gereed vir jou, moet dit dus nie misloop nie!

Tot volgende maand,
Lekker tuinmaak.



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM