Die Tuinier :: Editor's Letter
April 2019
   Die Tuinier

Ons gaan een van die besigste tuinmaande op die kalender binne, 'n maand wat my werklik inspireer om dinge te doen! Noudat die temperature afgekoel het, moet ons voorberei vir alles wat ons wil hê in die lente moet gebeur. 'n Bykomende bonus is dat dit regtig soveel gemakliker is om tuin te maak as dit koeler is!

Kom ons begin met saad. Dié tyd van die jaar gebeur alles: van Namakwalandse madeliefies en strandviooltjies in die grond kry tot die saai van gemengde saadpakke vir skadu- of sonplekke. Saad bied so 'n groot beloning vir so 'n klein belegging, veral as dit met die koop van saailinge vergelyk word – saad is soveel beter wat waarde vir geld betref. En as jy bereid is om 'n bietjie moeite te doen, is die beloning tienvoudig.

Terwyl jy al daardie saad propvol belofte saai, is dit ook tyd om jou lonende inheemse bolle in te druk. Tritonias, tjienkerientjees en ixias is maar net 'n paar van die pragstukke. Hulle is taai, fiemieslose metgeselle vir enige tuin, ongeag hoe groot of klein. En wat wonderlik van hierdie plaaslike bolle is, is dat hulle jaar na jaar weer opkom! Daar word gesê dat moeite gelyk is aan beloning. As julle dus nou moeite met die beplanning en voorbereiding van die lentetuin doen, mense, sal julle verstom staan wanneer die weer weer begin warm word!

Met al hierdie plantwerk wat plaasvind, kom ek terug na die begin van alles, die basis en fondament wat die belofte verskaf vir wat jy plant – die grond. Is joune lewend? Is dit goed gebalanseer, vol goeie koolstof, humus en organiese inhoud wat gesonde plante ondersteun? Onlangse navorsing, navorsingstudies en ontwikkelings het boere en huistuiniers al meer bewus gemaak van die belangrikheid van hierdie onderwerp. Soos hulle sê, dis 'n heel nuwe wêreld daar onder die grond, en ons hoop jy geniet 'n verduidelikende reis met ons om te leer van wat dit alles laat saamwerk en aan die gang hou!

Lekker tuinmaak!



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM