Die Tuinier :: Editor's Letter
Maart 2019
   Die Tuinier

Die gonswoorde vir dié maand se uitgawe is “kruisblommig”, “uitgerek en gestres”, “Die Lang Tuin” en “Cheyenne Spirit”!

“Kruisblommig” – dié woord beskryf die hele koolfamilie met Asiatiese blaargroente, broccoli, Brusselse spruite
en al, en ek moet erken ek hou die minste van laasgenoemde – tensy dit toegegooi is met kaassous, en dan is ek steeds nog nie oorgehaal nie! Ons vertel hoe, wanneer en waarom hierdie plante deel van jou tuinplan moet raak. Voorbereiding vir plant en die regdoen van basiese dinge sal jou beloon met ryk, voedsame en gesonde kruisblommige groente van vroegherfs dwarsdeur die winter. (“Kruisblommig” – is jy nie dol oor die woord nie?) “Uitgerek en gestres” (bladsy 34). Jy sal verskoon word as jy aan chiropraktiese aanpassings van verskuifde werwels dink, maar dit is heeltemal die teenoorgestelde. Dis eintlik plante se reaksie op groeistoestande wat nie ideaal is nie. Die probleem kom algemeen voor en word meestal by huis- en vetplante aangetref. Ons gee vir jou alles wat jy moet weet om dit te voorkom en hulle aan die lewe te hou.

“Die Lang Tuin”. Ek was bevoorreg om te sien hoe dié tuin die afgelope paar jaar vorm aanneem. Ons span het geduldig gewag dat die tuin tot sy reg kom en sy plek in ons tydskrif inneem. Toe ek uiteindelik laat in verlede jaar deur die klein syingang na die tuin stap, het ek gaan staan en geglimlag – die tuin was reg! Trouens, ek het die tuin nog nooit so mooi sien lyk nie! Hier is dit uiteindelik.

‘Cheyenne Spirit’. As jy naastenby aan iets in stamverband dink soos jagter- versamelaar of mistieke tradisionele seremonies wat deur die eeue oorgedra is, is jy in die kol! Dié variëteit van die bekende Echinacea plant (of keëlblom) wat in Oos- en Sentraal-Amerika inheems is, is vernoem na die Cheyenne-stam wat tot die 1600’s op die prêries rondgetrek het. Die Raad van Vier-en-veertig het in my kop vasgesteek toe ek 'n bietjie nagelees het: Daar was 40 hoofmanne, vier wat elk van die tien Cheyenne-groepe verteenwoordig het, asook nog vier hoofde oor die hoofmanne.

Die Cheyenne het geglo die wêreld is in sewe hoofvlakke verdeel. Volgens die Cheyenne was Ma’heo’o die skepper van alle fisieke en spirituele lewe, waaronder geestelike wesens wat die vorm van plante en diere aangeneem het. Hierdie tradisies, al is dit verwater, bestaan geslagte later steeds, en dit is goed om te weet dat so 'n taai pragstuk wat soveel verskillende toestande, voorkomste en gevoelens kan deurstaan, vernoem is na hierdie geestelike groep mense. Dié plant het my op 'n reis geneem en ek weet dit sal jou ook neem.




 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM