Die Tuinier :: Editor's Letter
September 2018
   Die Tuinier

Ons is almal lief vir iets of iemand. As ons liefhet, doen ons dit onbeperk, gee eenvoudig alles wat ons het en wil net die beste vir hulle hê. 'n Paar weke gelede is my klein sonskynkind Holly Baba, my oudste Yorkie-wolkind, van ons gesin weggeneem. Sy is noodlottig gewond deur 'n arend terwyl sy besig was om te doen waarvan sy die meeste hou – om in die sonskyn in die tuin te grawe en stukkies ongewenste gras uit haar noukeurig gegraafde gat te pluk. Kon haar dood voorkom en die pad van die noodlot verander gewees het? Ek glo nie. Ek was weg vir werk toe dit gebeur het en glo vas dat ek doelbewus die trauma gespaar is. Die gedagte wat deur 'n mens se kop maal, is waarom. Sy het 'n hondelewe gelei, soos gesê word. Sy was selfversekerd, 'n lewetjie van net 2,2 kg en die leier van die trop van ses ander wolkinders.

Selfs na al die baie snikkende ure is dit werklik moeilik om so 'n diepe verlies te verstaan. Ons mis haar. Ek mis haar. Sy was my kussingmaatjie – met haar sagte kombersie het sy elke aand haar plekkie op my boonste kussing gehad. Haar ritueel was 'n gekielie soggens, 'n proesende geblaas op haar magie op die bed wanneer ons ook al by die huis kom, 'n klein krappie op my kop gedurende die nag, baie liggies, as sy teen my wou lê, om nie te praat van al die soentjies vir Ma nie!

Holly Baba, wat so genoem is omdat ons haar Kerstyd gekry het, het opgedaag as die pieperigste van haar werpsel: skaam, bangerig en altyd reg om weg te kruip. Ek glo ons het haar alles gegee wat sy nodig gehad het om haar heel beste te raak – sy het selfversekerdheid uitgestraal, vandaar my ander naam vir haar, Hollywood! Oulikheid gepersonifieer, het sy my om haar pootjie gedraai en ek het haar met my hele hart liefgehad.

Maar soos hulle in die klassieke werke sê, die lewe gaan voort, die son sal weer môre opkom, en ons moet eenvoudig aangaan. Ons moet al ons liefde en aandag aan haar suster en die res van die wolfamilie skenk, wat ook verward is en haar mis. Stadigaan raak dit makliker om die verandering te hanteer, maar die gapende gat bly. Hierdie bladsye word opgedra aan my Holly Baba, dierbare kind, Hollywood, Sonskynkind, Liefling en Engel.

Jy is om 'n rede na ons gestuur – dankie dat jy my hart vol gemaak en soveel vreugde in ons lewens gebring het.

Ek weet sy is by my ma, styf aangevly in die holte van haar nek (haar gunstelingplek, natuurlik met 'n bietjie magiekielie daarby). Ek weet ook dat die hemel nou 'n baie lawaaieriger plek is met my luidrugtige paddatjie aan die blaf om almal in gelid te kry!

Dit is moeilik om lief te hê en om te laat gaan, maar ek weet haar gees is hier langs my.




 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM