Die Tuinier :: Editor's Letter
July 2018
   Die Tuinier

Dis so lekker om tuis te wees! Ek skryf nou hier pas na my terugkoms van 'n propvol reis van 11 dae na die RHS Chelsea-blommeskou en' n paar ongelooflike tuine in Engeland. Ek kan nie vir julle beskryf hoe goed dit is om net op een plek terug te wees nie, om stil te sit met die wete dat jy bekende goed om jou gaan hê: honde, koffie, my eie tuin, my familie en my span van Lonehill!

Almal sê altyd hoe ongelooflik dit is om te reis! Ja, dit is, maar goeiste (en moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie), dit is uitputtend! Om jou tas teen trappe op, met perronne langs tot op treine te trek (o, en dan weer af omdat jy op die verkeerde een geklim het!), en Google-kaarte te vertrou om jou op die regte plek of net in die voorstad te kry, is alles baie uitputtend. Op 'n stadium het ek daarop aangedring om 'n kaart te kry (van julle het dalk die foto op Facebook gesien). Ja,'n outydse kaart waarop 'n mens met een oogopslag kan sien hoe ver jy is en waarheen jy op pad is.

Ek is seker daar is die een of ander windmaker toep hiervoor, maar ek dink nie jy kan verdwaal as jy met &'n pen en'n goeie kaart bewapen is nie! Ons het gemiddeld ongeveer 14 km per dag gestap, deur pragtige tuine, op sypaadjies en met baie smal trappe op (dit is iets wat my verbyster het). By verskeie geleenthede het ek en my tas amper by die trap afgeval! Almal is eenvoudig te smal om jou tas langs jou te dra – jou tas moet dus voor of agter jou met die trap opgaan, en nodeloos om te sê, ek het agtergekom dat agter jou nie alte slim is nie. Swaartekrag en daardie ou met die appel, mnr. Newton, het my gegryp. Die tasdrama het selfs vererger toe die handvatsel besluit om nie uit te trek nie. (Kan jy jou dit voorstel om 'n tas geboggel deur die geplaveide strate te trek!) O, en wat sakpasmaaltye betref, is ek sat van worsies en kapokaartappels, en die enigste Pimms wat ek gedrink het, het 'n yslike R90 gekos!

Daar is egter baie gelag en soveel inspirasie, en dit is hoekom ons op avonture gaan – om geïnspireer te word vir verandering en om grense te verskuif, en hierdie reis het presies dit gedoen! Ek kan nie wag om die volgende paar maande al die borrelende idees en huistoeneemstukkies met julle te deel wat ons saamgebring het vir elke tuinier in hierdie ongelooflike land van ons nie!

Ten slotte, ons SANBI-uitstalling het 'n goue medalje huis toe gebring! SANBI stal al 43 jaar opeenvolgens by Chelsea uit en dit is die 36ste goue medalje wat hulle wen. Met 'n nuwe span en met behulp van vrywilligers het ontwerper Leon Kluge skouspelagtige werk gelewer. Knap gedaan, Span SA!

Tot volgende maand
Lekker tuinmaak



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM