SA Tuin  :: Editor's Letter
April 2010
   SA Tuin

In die vroeë negentigerjare het ek eendag die kleinste, perfekste laventelheininkies rondom blombeddings in ’n oulike Johannesburgse binnehoftuintjie raakgeloop - my eerste kennismaking met sulke lae laventelheininkies. Dit vra hope moed, oortuiging, geduld en styl om sulke lae, smal laventelheininkies so pynlik netjies te groei en snoei. Deur die jare het ek nog baie ander tuine besoek wat deur Shirley Wallington ontwerp is. Ek het agtergekom dat sy ’n voorliefde het vir die kombinasie van formeel gesnoeide heinings en vormboompies met die wonderlike wanorde van gemengde blombeddings en die kothuisstyl van tuinmaak. Om die waarheid te sê, Shirley het nie brieke nie! Organiese tuine, ’n tikkie Alice in Wonderland, ’n kuierplek waar die gesin prettige ure saam kan deurbring - al hierdie elemente is deel van Shirley se tuine. Lees meer oor haar eie tuin op bladsy 99.
Ons bring ook vandeesmaand hulde aan nog ’n tuinghoeroe – Ludwig Taschner. Verlede jaar het ons Margaret Roberts as ons eerste Groen Ambassadeur aangestel, ’n ereposisie wat sy altyd sal behou. In Maart het ons Ludwig Taschner as ons tweede Groen Ambassadeur aangewys. Ludwig is so ’n ikoon in Suid-Afrika en ons is lief vir hom oor sy sagte geaardheid, sy skat van kennis, en vir die feit dat hy Suid-Afrika se rose wêreldberoemd gemaak het.
Geniet ons Paas-uitgawe en hou asseblief aan om julle wonderlike briewe vir my te skryf – ek hou van elke storie, nota of stukkie nuus!
Tot volgende keer!



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM